Hoofstuk 8: Howe en Regspleging (artikels 165-180)

165. Regsprekende gesag

  1. Die regsprekende gesag van die Republiek berus by die howe.
  2. Die howe is onafhanklik en onderworpe slegs aan die Grondwet en die reg, wat hulle onpartydig en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel moet toepas.
  3. Geen persoon of staatsorgaan mag op die funksionering van die howe inbreuk maak nie.
  4. Staatsorgane moet die howe deur middel van wetgewende en ander maatreëls bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid van die howe te verseker.
  5. ʼn Bevel of beslissing deur ʼn hof uitgereik, bind alle persone op wie en staatsorgane waarop dit van toepassing is.
  6. Die Hoofregter is die hoof van die regbank en oefen verantwoordelikheid uit oor die vestiging van en monitering van norme en standaarde vir die verrigting van die regterlike funksies van alle howe.

    [Sub-a. (6) bygevoeg deur a. 1 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

166. Regstelsel

  1. Die howe is–
    1. die Konstitusionele Hof;
    2. die Hoogste Hof van Appèl;
    3. die Hooggeregshof van Suid-Afrika, en enige hoë hof van appèl wat ingevolge ʼn Parlementswet ingestel word om appèlle vanaf enige hof met ʼn status soortgelyk aan die Hooggeregshof van Suid-Afrika aan te hoor;
    4. die Landdroshowe; en
    5. enige ander hof ingevolge ʼn Parlementswet ingestel of erken, met inbegrip van ʼn hof met ʼn status soortgelyk aan dié van hetsy die Hooggeregshof van Suid-Afrika hetsy die landdroshowe.

    [A. 166 vervang deur a. 2 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

167. Konstitusionele Hof

  1. Die Konstitusionele Hof bestaan uit die Hoofregter van Suid-Afrika, die Adjunkhoofregter en nege ander regters.

    [Sub-a. (1) vervang by a. 11 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

  2. ʼn Aangeleentheid voor die Konstitusionele Hof moet deur minstens agt regters verhoor word.
  3. Die Konstitusionele Hof–
    1. is die hoogste hof van die Republiek;
    2. kan beslis oor–
      1. grondwetlike aangeleenthede; en
      2. enige ander aangeleentheid, indien die Konstitusionele hof verlof om appèl toestaan op die gronde dat die aangeleentheid ʼn debatteerbare regspunt van algemene openbare belang na vore bring wat deur daardie Hof oorweeg behoort te word; en
    3. gee die finale beslissing oor die vraag of ʼn aangeleentheid binne sy regsgebied val.

    [Sub-a (3) vervang deur a. 3 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

  4. Slegs die Konstitusionele Hof kan–
    1. beslis oor geskille tussen staatsorgane in die nasionale of provinsiale sfeer betreffende die grondwetlike status, bevoegdhede of funksies van enige van daardie staatsorgane;
    2. beslis oor die grondwetlikheid van enige parlementêre of provinsiale Wetsontwerp, maar kan dit slegs doen in die omstandighede wat in artikel 79 of 121 beoog word;
    3. beslis oor aansoeke wat in artikel 80 of 122 beoog word;
    4. beslis oor die grondwetlikheid van enige wysiging van die Grondwet;
    5. beslis dat die Parlement of die President in gebreke gebly het om ʼn grondwetlike verpligting na te kom; of
    6. ʼn provinsiale grondwet ingevolge artikel 144 sertifiseer.
  5. Die Konstitusionele Hof vel die finale beslissing oor die vraag of ʼn Parlementswet, ʼn provinsiale Wet of optrede van die President grondwetlik is, en geen bevel van ongeldigheid wat deur die Hoogste Hof van Appèl, die Hooggeregshof van Suid-Afrika of ʼn hof met soortgelyke status gegee is, is van krag voordat daardie bevel deur die Konstitusionele Hof bevestig is nie.

    [Sub-a (5) vervang by a. 3 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

  6. Nasionale wetgewing of die reëls van die Konstitusionele Hof moet ʼn persoon toelaat om, wanneer dit in die belang van geregtigheid is en met verlof van die Konstitusionele Hof–
    1. ʼn aangeleentheid regstreeks by die Konstitusionele Hof aanhangig te maak; of
    2. regstreeks vanaf enige ander hof na die Konstitusionele Hof te appelleer.
  7. ʼn Grondwetlike aangeleentheid sluit enige kwessie in waarby die uitleg, beskerming of afdwinging van die Grondwet betrokke is.

168. Hoogste Hof van Appèl

  1. Die Hoogste Hof van Appèl bestaan uit ʼn President, ʼn Adjunkpresident en die getal appèlregters wat ingevolge ʼn Parlementswet bepaal word.

    [Sub-a. (1) vervang by a. 12 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

  2. ʼn Aangeleentheid voor die Hoogste Hof van Appèl moet beslis word deur die getal regters wat ingevolge ʼn Parlementswet bepaal word.

    [Sub-a. (2) vervang by a. 12 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

    1. Die Hoogste Hof van Appèl kan appèlle beslis in enige aangeleentheid voortspruitend vanuit die Hooggeregshof van Suid-Afrika of ʼn hof met ʼn soortgelyke status as die Hooggeregshof van Suid-Afrika, buiten ten opsigte van arbeids- of mededingingsaangleenthede in die mate deur ʼn Parlementswet bepaal.
    2. Die Hoogste Hof van Appèl kan slegs beslis oor-
      1. appèlle;
      2. kwessies wat met appèlle in verband staan; en
      3. enige ander aangeleentheid wat na hom verwys mag word in omstandighede wat deur ʼn Parlementswet omskryf is.

    [Sub-a (3) vervang by a. 4 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

169. Hooggeregshof van Suid-Afrika

  1. Die Hooggeregshof van Suid-Afrika kan-
    1. enige grondwetlike aangeleentheid beslis, uitgesonderd ʼn aangeleentheid wat-
      1. die Konstitusionele Hof ingevolge artikel 167(6)(a) ingestem het om regstreeks aan te hoor; of
      2. deur ʼn Parlementswet opgedra is aan ʼn ander hof met ʼn status soortgelyk aan dié van die Hooggeregshof van Suid-Afrika; en
    2. enige ander aangeleentheid beslis wat nie deur ʼn Parlementswet aan ʼn ander hof opgedra is nie.
  2. Die Hooggeregshof van Suid-Afrika bestaan uit die afdelings bepaal deur ʼn Parlementswet, welke Wet voorsiening moet maak vir-
    1. die instelling van afdelings, met een of meer setels in ʼn afdeling; en
    2. die toewysing van regsbevoegdheid aan ʼn afdeling of ʼn setel binne ʼn afdeling.
  3. Elke afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika-
    1. het ʼn Regter-president;
    2. kan een of meer adjunkregters-president hê; en
    3. het die getal ander regters ingevolge nasionale wetgewing bepaal.

    [A. 169 vervang by a. 5 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

170. Ander howe

  1. Alle howe buiten dié in artikels 167, 168 en 169 bedoel kan enige aangeleentheid beslis wat deur ʼn Parlementswet bepaal word, maar ʼn hof met ʼn laer status as die Hooggeregshof van Suid-Afrika mag nie ondersoek instel na of beslis oor die grondwetlikheid van enige wetgewing of enige optrede van die President nie.

[A. 170 vervang by a. 6 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

171. Hofprosedures

  1. Alle howe funksioneer ingevolge nasionale wetgewing, en daar moet ingevolge nasionale wetgewing vir hulle reëls en prosedures voorsiening gemaak word.

172. Bevoegdhede van howe in grondwetlike aangeleenthede

  1. Wanneer ʼn hof ʼn grondwetlike aangeleentheid binne sy bevoegdheid beslis–
    1. moet die hof verklaar dat enige regsvoorskrif of optrede wat met die Grondwet onbestaanbaar is, ongeldig is in die mate waarin dit onbestaanbaar is; en
    2. kan die hof enige bevel gee wat regverdig en billik is, met inbegrip van–
      1. ʼn bevel wat die terugwerkendheid van die ongeldigverklaring beperk; en
      2. ʼn bevel wat die ongeldigverklaring vir enige tydperk en op enige voorwaardes opskort ten einde die bevoegde gesag toe te laat om die gebrek reg te stel.
    1. Die Hoogste Hof van Appèl, die Hooggeregshof van Suid-Afrika of ʼn hof met soortgelyke status kan ʼn bevel gee oor die grondwetlikegeldigheid van ʼn Parlementswet, ʼn provinsiale Wet of enige optrede vandie President, maar ʼn bevel van grondwetlike ongeldigheid is nie vankrag tensy dit deur die Konstitusionele Hof bevestig word nie.

      [Par (a) vervang by a. 7 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

    2. ʼn Hof wat ʼn bevel van grondwetlike ongeldigheid gee, kan ʼn tydelike interdik of ander tydelike verligting aan ʼn party verleen, of kan die verrigtinge verdaag, hangende ʼn beslissing van die Konstitusionele Hof oor die geldigheid van genoemde Wet of optrede.
    3. Nasionale wetgewing moet voorsiening maak vir die verwysing van ʼn bevel van grondwetlike ongeldigheid na die Konstitusionele Hof.
    4. Enige persoon of staatsorgaan met ʼn voldoende belang kan regstreeks appelleer na, of regstreeks aansoek doen by, die Konstitusionele Hof om ʼn bevel van grondwetlike ongeldigheid deur ʼn hof ingevolge hierdie subartikel, te bevestig of te verander.

173. Inherente bevoegdheid

  1. Die Konstitusionele Hof, die Hoogste Hof van Appèl en die Hooggeregshof van Suid-Afrika het elk die inherente bevoegdheid om, met inagneming van die belang van geregtigheid, hul eie proses te beskerm en te reël en die gemene reg te ontwikkel.

[A. 173 vervang by a. 8 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

174. Aanstelling van regterlike beamptes

  1. Enige toepaslik gekwalifiseerde vrou of man wat ʼn geskikte en gepaste persoon is, kan as ʼn regterlike beampte aangestel word. Iemand wat in die Konstitusionele Hof aangestel staan te word moet daarbenewens ʼn Suid-Afrikaanse burger wees.
  2. Die behoefte dat die regbank in die breë die rasse- en geslagsamestelling van Suid- Afrika weerspieël, moet in aanmerking geneem word wanneer regterlike beamptes aangestel word.
  3. Die President as hoof van die nasionale uitvoerende gesag stel, na oorleg met die Regterlike Dienskommissie en die leiers van partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, die Hoofregter en Adjunkhoofregter aan en, na oorleg met die Regterlike Dienskommissie, die President en Adjunkpresident van die Hoogste Hof

    [Sub-a. (3) vervang by a. 13 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

  4. Die ander regters van die Konstitusionele Hof word deur die President, as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, na oorleg met die Hoofregter en die leiers van partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, ooreenkomstig die volgende prosedure aangestel:
    1. Die Regterlike Dienskommissie moet ʼn lys van benoemdes opstel met drie name meer as die getal aanstellings wat gedoen moet word, en die lys aan die President voorlê.
    2. Die President kan aanstellings uit die lys doen, en moet die Regterlike Dienskommissie in kennis stel, met vermelding van redes, indien enige van die benoemdes onaanvaarbaar is en enige aanstelling nog gedoen moet word.
    3. Die Regterlike Dienskommissie moet die lys met verdere benoemdes aanvul en die President moet die oorblywende aanstellings uit die aangevulde lys doen.

    [Sub-a. (4) vervang by a. 13 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

  5. Te alle tye moet minstens vier lede van die Konstitusionele Hof persone wees wat regters was op die tydstip waarop hulle in die Konstitusionele Hof aangestel is.
  6. Die President moet die regters van alle ander howe op advies van die Regterlike Dienskommissie aanstel.
  7. Ander regterlike beamptes word aangestel ingevolge ʼn Parlementswet, wat moet verseker dat die aanstelling, bevordering, oorplasing of ontslag van, of tugstappe teen, hierdie regterlike beamptes sonder begunstiging of vooroordeel geskied.
  8. Voordat regterlike beamptes begin om hulle funksies te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring aflê dat hulle die Grondwet sal handhaaf en beskerm.

175. Aanstelling van waarnemende regters

  1. Die President kan ʼn vrou of ʼn man aanstel om as ʼn waarnemende Adjunkhoofregter of regter in die Konstitusionele Hof te dien indien daar ʼn vakature is of indien die persoon wat sodanige amp beklee, afwesig is. Die aanstelling moet geskied op aanbeveling van die Kabinetslid wat vir die regspleging verantwoordelik is, handelende met die instemming van die Hoofregter, en ʼn aanstelling as waarnemende Adjunkhoofregter moet uit die geledere van die regters wat ingevolge artikel 174(4) tot die Konstitusionele Hoof aangestel is, gedoen word.

    [Sub-a. (1) vervang by a. 14 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001 en vervang deur a.9 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

  2. Die Kabinetslid wat vir die regspleging verantwoordelik is, moet waarnemende regters in ander howe aanstel na oorleg met die senior regter van die hof waarin die waarnemende regter sal dien.

    [A. 175 vervang by a. 9 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

176. Ampstermyne en vergoeding

  1. ʼn Regter van die Konstitusionele Hof beklee die amp vir ʼn nieherhaalbare termyn van 12 jaar of totdat hy of sy die ouderdom van 70 jaar bereik, watter ook al eerste plaasvind, behalwe waar ʼn Parlementswet die ampstermyn van ʼn regter van die Konstitusionele Hof verleng.

    [Sub-a. (1) vervang by a. 15 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

  2. Ander regters beklee die amp totdat hulle ingevolge ʼn Parlementswet van aktiewe diens onthef word.
  3. Die salarisse, toelaes en voordele van regters mag nie verminder word nie.

177. Ontheffing

  1. ʼn Regter kan van die amp onthef word slegs indien–
    1. die Regterlike Dienskommissie bevind dat die regter aan ʼn onvermoë ly, uitermate onbevoeg is of aan growwe wangedrag skuldig is; en
    2. die Nasionale Vergadering die ontheffing van daardie regter aanvra by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die Vergadering.
  2. Die President moet ʼn regter van die amp onthef indien ʼn besluit aangeneem word waarin die ontslag van daardie regter aangevra word.
  3. Die President kan op advies van die Regterlike Dienskommissie ʼn regter skors wat die onderwerp is van verrigtinge ingevolge subartikel (1).

178. Regterlike Dienskommissie

  1. Daar is ʼn Regterlike Dienskommissie wat bestaan uit –
    1. die Hoofregter, wat op vergaderings van die Kommissie voorsit;
    2. die President van die Hoogste Hof van Appèl;

      [Par. (b) vervang by a. 16(a) van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

    3. een Regter-president deur die Regters-president aangewys;
    4. die Kabinetslid wat vir die regspleging verantwoordelik is, of ʼn plaasvervanger deur daardie Kabinetslid aangewys;
    5. twee praktiserende advokate uit die geledere van die advokateprofessie benoem om die professie as geheel te verteenwoordig, en deur die President aangestel;
    6. twee praktiserende prokureurs uit die geledere van die prokureursprofessie benoem om die professie as geheel te verteenwoordig, en deur die President aangestel;
    7. een dosent in die regte deur regsdosente aan Suid-Afrikaanse universiteite aangewys;
    8. ses persone deur die Nasionale Vergadering uit sy geledere aangewys, van wie minstens drie lede moet wees van opposisiepartye wat in die Vergadering verteenwoordig is;
    9. vier vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies as ʼn groep deur die Raad aangewys by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van minstens ses provinsies;
    10. vier persone aangewys deur die President as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, na oorleg met die leiers van al die partye in die Nasionale Vergadering; en
    11. wanneer aangeleenthede oorweeg word wat op ʼn spesifieke Afdeling van de Hooggeregshof van Suid-Afrika betrekking het, die Regter-president van daardie Afdeling en die Premier van die betrokke provinsie, of ʼn plaasvervanger deur elk van hulle aangewys.

      [Par. (k) vervang by a. 2 van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998 en by a. 16(b) van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001 en deur a. 10 van die Sewentiende Wysigingswet op die Grondwet van 2012.]

  2. Indien die getal persone wat ingevolge subartikel (1)(e) of (f) uit die geledere van die advokate- of prokureursprofessie benoem is, gelyk is aan die getal vakatures wat gevul moet word, moet die President hulle aanstel. Indien die getal persone wat benoem is meer is as die getal vakatures wat gevul moet word, moet die President, na oorleg met die betrokke professie, genoeg van die benoemdes aanstel om die vakatures te vul, met inagneming van die behoefte om te verseker dat diegene wat aangestel word die professie as geheel verteenwoordig.
  3. Lede van die Kommissie deur die Nasionale Raad van Provinsies aangewys, dien totdat hulle as ʼn groep vervang word of totdat ʼn vakature in hulle geledere ontstaan. Ander lede wat in die Kommissie aangewys of benoem is, dien totdat hulle vervang word deur diegene wat hulle aangewys of benoem het.
  4. Die Regterlike Dienskommissie het die bevoegdhede en funksies in die Grondwet en nasionale wetgewing aan hom opgedra.
  5. Die Regterlike Dienskommissie kan die nasionale regering oor enige aangeleentheid met betrekking tot die regbank of die regspleging adviseer, maar wanneer hy enige aangeleentheid behalwe die aanstelling van ʼn regter oorweeg, moet hy sonder die lede wat ingevolge subartikel (1)(h)en (i) aangewys is, vergader.
  6. Die Regterlike Dienskommissie kan sy eie prosedure bepaal, maar besluite van die Kommissie moet deur ʼn meerderheid van sy lede gesteun word.
  7. Indien die Hoofregter of die President van die Hoogste Hof van Appèl tydelik nie in staat is om op die Kommissie te dien nie, neem die Adjunkhoofregter of die Adjunkpresident van die Hoogste Hof van Appèl, na gelang van die geval, as sy of haar plaasvervanger op die Kommissie waar.

    [Sub-a. (7) bygevoeg by a. 2(b) van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998 en vervang by a.16 (c) van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

  8. Die President en die persone wat die lede van die Kommissie ingevolge subartikel (1)(c), (e), (f) en (g) aanstel, benoem of aanwys, kan op dieselfde wyse ʼn plaasvervanger vir elk van daardie lede aanstel, benoem of aanwys om in die Kommissie te dien wanneer ook al die betrokke lid tydelik nie in staat is om dit te doen nie as gevolg van sy of haar onvermoë of afwesigheid uit die Republiek of om enige ander toereikende rede.

    [Sub-a. (8) bygevoeg by a. 2(b) van die Tweede Wysigingswet op die Grondwet van 1998.]

179. Vervolgingsgesag

  1. Daar is ʼn enkele nasionale vervolgingsgesag in die Republiek, wat ingevolge ʼn Parlementswet saamgestel is en wat bestaan uit–
    1. ʼn Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, wat die hoof van die vervolgingsgesag is en deur die President, as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, aangestel word; en
    2. Direkteure van Openbare Vervolgings en aanklaers soos deur ʼn Parlementswet bepaal.
  2. Die vervolgingsgesag het die bevoegdheid om strafregtelike verrigtinge namens die staat in te stel en om enige funksies te verrig wat in verband met die instel van strafregtelike verrigtinge nodig is.
  3. Nasionale wetgewing moet verseker dat die Direkteure van Openbare Vervolgings –
    1. paslik gekwalifiseerd is; en
    2. verantwoordelik is vir vervolgings in spesifieke jurisdiksies, behoudens subartikel (5).
  4. Nasionale wetgewing moet verseker dat die vervolgingsgesag sy funksies sonder vrees, begunstiging of vooroordeel verrig.
  5. Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings–
    1. moet met die instemming van die Kabinetslid wat vir die regspleging verantwoordelik is en na oorleg met die Direkteure van Openbare Vervolgings die vervolgingsbeleid bepaal wat in die vervolgingsproses nagekom moet word;
    2. moet beleidsvoorskrifte uitreik wat in die vervolgingsproses nagekom moet word;
    3. kan in die vervolgingsproses ingryp wanneer beleidsvoorskrifte nie nagekom word nie; en
    4. kan ʼn besluit om te vervolg of nie te vervolg nie, hersien na oorleg met die betrokke Direkteur van Openbare Vervolgings en na ontvangs, binne ʼn tydperk deur die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings bepaal, van vertoë van die volgende:
      1. Die beskuldigde.
      2. Die klaer.
      3. Enige ander persoon of party wat deur die Nasionale Direkteur as betrokke beskou word.
  6. Die Kabinetslid wat vir die regspleging verantwoordelik is, oefen finale verantwoordelikheid oor die vervolgingsgesag uit.
  7. Alle ander aangeleenthede betreffende die vervolgingsgesag moet deur nasionale wetgewing bepaal word.

180. Ander aangeleenthede betreffende regspleging

  1. Nasionale wetgewing kan voorsiening maak vir enige aangeleentheid betreffende die regspleging waarmee nie in die Grondwet gehandel word nie met inbegrip van–
    1. opleidingsprogramme vir regterlike beamptes;
    2. prosedures vir die hantering van klagtes oor regterlike beamptes; en
    3. die deelname van ander persone as regterlike beamptes aan die beslissings van howe.